|
Dekseisoen: Enkele Gedagtes |
Deur Dr. Johan Kluyts, Sim-Voorsitter
Inleiding
‘n Vasgestelde (beperkte) dekseisoen word gewoonlik aanbeveel sonder dat al die faktore of die gevolge van so n’ aanbeveling in ag geneem word. Deur kortliks na van die belangrikste faktore te kyk word enkele aanbevelings gemaak.
In die geval van beeste is daar, anders as wat die geval by die meeste ander plaasdiere is, nie n’ duidelike seisoenale variasie in geslagsaktiwiteit nie. Dit is die rede waarom heeljaar-kalwing moontlik is en in melkkuddes toegepas word. Daar bestaan egter n’ sterk neiging vir koeie om in die lente te kalf. Bulle vertoon ook n’ mate van seisoenale variasie in vrugbaarheid. Lang dae bevoordeel spermproduksie maar semen kwaliteit word deur hoë temperature onderdruk.
Voordele / Nadele
Die belangrikste voordele in die gebruik van dekseisoene, is dat bestuurspraktyke soos
dragtigheids-diagnose, rekordhouding, speen, byvoeding, onthoring, kastrasie, inentings en bemarking vereenvoudig word. Beter sinkronisasie van die diere se behoeftes met beskikbare voeding (weiding) is moontlik terwyl bemarking ook meer doeltreffend beplan kan word. Kalwers wat gedurende die lente en vroeë somer gebore word speen ook swaarder as kalwers uit ander tye van die jaar. Vir die beraming van teelwaardes vir “days to calving” of “calving date”, wat belangrike kriteria van vrugbaarheid is, word die toepassing van dekseisoene vereis.
Ten spyte van hierdie voordele bestaan daar ook voldoende bewyse dat n’ beleid van beperkte of gekontroleerde dekseisoene nie blindelings aanvaar of bevorder moet word nie aangesien kalfpersentasie eerder verlaag as verhoog (waarskynlik a.g.v. post partum anestrus). In die geval van die Simmentalerras is die gemiddelde TKP tans 420 dae (Beef Breeding in S.A) wat 55 dae langer is as die vereiste 365 dae om n’ beperkte dekseisoen te handhaaf. Dit beteken dat, waar n’ dekseisoen van ongeveer 3 siklusse (60-63 dae) toegepas word, slegs die beste koeie, onder optimale bestuur en omgewingstoestande, jaarliks sal kalf terwyl die gemiddelde koeie waarskynlik slegs elke tweede jaar sal kalf. Geen boer kan dit bekostig nie.
Wanneer?
Die kalfseisoen en gevolglik ook die dekseisoen moet sodanig met beskikbare weiding, klimaatstoestande en markvereistes gesinkroniseer word dat boere maksimum voordele daaruit trek en die minimum kostes moet aangaan. Die koei se behoeftes is die hoogste gedurende die vroeë post partum periode (ongeveer twee maande na kalwing) wanneer sy haar laktasie piek bereik. Sy moet ook op ongeveer drie maande na kalwing weer dragtig raak. Dit is dus logies dat hierdie tydperk moet saamval met die tyd wanneer die kwaliteit en kwantiteit van die weiding die beste is. Kalwers word in hierdie stelsel ook gewoonlik voor die winter gespeen (en bemark) met die voordeel dat die stremming op die koei (en die plaas) verminder word.
Met herfs-kalwing het koeie in die winter hulle hoogste voedings behoeftes terwyl die weiding gewoonlik swak is en nie aan die behoeftes kan voorsien nie. Boere moet dan ten duurste voer aankoop om voldoende produksie (groei en melk) en herkonsepsie te verseker. Somer-kalwing moet liefs vermy word aangesien die koei se behoeftes weereens uit sinkronisasie met beskikbare voeding is, die jong kalwers aan temperatuur uiterstes blootgestel kan word en gewoonlik ook swak presteer in terme van speenmassa.
Aangesien daar groot omgewings variasie bestaan, kan n’ spesifieke datum vir die aanvang van die dekseisoen nie voorgeskryf word nie. n’ Duimreël is egter dat die kalf- seisoen ongeveer 30 dae voor die aanvang van die somerreëns moet begin en die dekseisoen drie maande na die kalfseisoen. Hierdie pasgebore kalwers benodig relatief min melk. As die weiding na die eerste reën verbeter, verhoog melkproduksie en kan die koei in die stygende behoeftes van die groeiende kalf voorsien. Weiding behoort dan ook tydens die dekseisoen piek kwaliteit en kwantiteit te bereik. Dit verseker beter herkonsepsie. n’ Addisionele kalf/dekseisoen gedurende die herfs/winter kan, waar nodig, die onproduktiewe tydperk van die koeie verkort. Sodoende kan finansieële verliese beperk word.
Hoe lank?
Die lengte van die dekseisoen kan varieer van so kort as 42 - 45 dae (2 siklusse) tot so lank as 60 - 120 dae. Navorsing het egter bewys dat ongeveer 90% van die koeie wat wel dragtig raak binne die eerste drie siklusse (63 dae) dragtig raak. Dit is natuurlik op voorwaarde dat bestuur oor die algemeen goed is. By koeie wat nie dragtig raak nie bestaan daar waarskynlik een of ander onderliggende problem soos onder andere lae vrugbaarheid, voedings tekorte of siekte toestande.
Vrugbaarheid van die koei in die tydperk na kalwing hang af van die suksesvolle involusie (herstel) van die baarmoeder asook die hervatting van normale estrus siklusse. Die gemiddelde interval van kalwing tot eerste estrus is 35-75 dae. Herstel van die baarmoeder neem ongeveer 45 dae.
Aangesien koeie ongeveer 283-284 dae dragtig is beteken dit dat hulle 81-82 dae na kalwing weer dragtig moet raak. Die grootste probleem met die bereiking van hierdie doelwit is die voorkoms van n’ verlengde post partum anestrus of anovulasie. Wanvoeding of ondervoeding (veral energie tekorte) voor en/of na kalwing vertraag follikel ontwikkeling en ovulasie. Soging (laktasie anestrus), distokie, plasenta retensie en metritus dra ook by tot hierdie verlengde anestrus periode.
Hoe skakel ek oor ?
n’ Kalfseisoen is n’ belangrike faktor wat reproduksietempo beinvloed en dit vereis min finansiële insette. Die grootste problem is egter om suksesvol oor te skakel van heeljaar dekking na n’ beperkte dekseisoen.
Uit die voorgaande is dit duidelik dat die sukses sal afhang van bestuur voor, tydens en na kalwing. Aangesien kondisie n’ belangrike rol speel moet koeie in n’ redelike kondisie wees tydens kalwing en massa verliese tydens vroeë laktasie moet tot die minimum beperk word. Die belangrikheid van vroeë kalwing in die kalfseisoen kan ook nie oorbeklemtoon word nie. Dit gee die koeie langer tyd na kalwing, om te herstel.
Die voorkoms van moeilike kalwings moet so ver as moontlik beperk word aangesien dit die herstel van die baarmoeder vertraag en die moontlikheid van herkonsepsie verlaag.
Algemene bestuur, voeding, gesondheid, lekaanvulling, inentings, parasietbeheer ens. moet ook op ‘n hoë vlak wees om optimale herkonsepsie te verseker.
Genetiese verbetering in vrugbaarheid (vroeë kalwing, kort TKP, min “days to calving”, hoë Simdeks ens.) kan n’ belangrike bydra lewer op voorwaarde dat die kudde goed bestuur word.
Om laktasie anestrus te verkort is verskeie stelsels, waar die kalwers vir tydperke afgehok word sodat hulle nie kan suip nie, ondersoek Alhoewel hierdie stelsels die tydperk tot eerste estrus verkort het was meeste stelsels a.g.v. die verhoogde bestuursinsette en verlaagde speenmassas nie ekonomies geregverdig nie. Die mees praktiese metode was om die kalwers aan die begin van die dekseisoen, eenmalig vir 48 uur af te hok. Hierdie tydelike speen van kalwers het tot gevolg dat meer koeie aan die begin van die dekseisoen op hitte kom en dragtig raak, sonder nadelige gevolge vir die kalwers.
Kruipvoeding kan oorweeg word om die stremming op die koeie en gevolglik massaverliese te beperk. Weereens sal ekonomiese aspekte deeglik oorweeg moet word.
Daar moet ook n’ voldoende hoeveelheid vrugbare bulle wees om te verseker dat die koeie wel dragtig kan raak. Waar KI toegepas word is hitte observasie, tydigheid van inseminasie, semen- kwaliteit en die vaardigheid van die insemineerder belangrike faktore wat die sukses van die dekseisoen sal beinvloed.
Die beste en goedkoopste manier om oor te skakel is waarskynlik om eerstens algemene bestuur op ‘n hoë vlak te kry. Daarna moet besluit word wat die beste tyd vir die dekseisoene sal wees. Bulle kan dan in die eerste jaar vir ‘n kort tydperk (een maand) na die beplande dekseisoen uitgehaal word. In die daaropvolgende jare word hierdie tydperk, wanneer die bulle uitgehaal word, jaarliks verleng totdat die dekseisoen die verlangde lengte het.
Gevolgtrekkings
Aangesien die kalfinterval (tydperk tussen opeenvolgende kalwings) een van die belangrikste faktore is wat die winsgewendheid van die boerdery beinvloed, is dit belangrik dat boere baie realisties en objektief moet wees voordat hulle enige besluite neem aangaande dekseisoene. Elke boer weet wat die vlak van bestuur in sy kudde is, hoe lank die gemiddelde TKP is en of hy dit kan bekostig om sy buite-seisoen-koeie te laat oorslaan tot die volgende beplande dekseisoen. Ten spyte van die voordele van beperkte dekseisoene sal so n’ stelsel, om praktiese of ekonomiese redes, nie vir almal moontlik of aanvaarbaar wees nie.
Die Simmentaler Beestelersgenootskap van Suidelike Afrika
2003 - 2007