Algemene Vrae oor Prestasietoetsing

(Saamgestel uit die BREEDPLAN HANDLEIDING met enkele aanpassings - CP Massmann)

Wat is die verskil tussen indekse en BTWs (Beraamde Teelwaardes)?

‘n Indeks word slegs op ‘n binne-kudde kontemporêre groepbasis gebruik en dit is nie ‘n genetiese maatstaf nie. Indekse kan slegs vir binne-kudde- of tropvergelykings gebruik word in ‘n bepaalde seisoen.  BTWs het ses belangrike voordele wat nie deur indekse in ag geneem word nie:

(i) BTWs is genetiese maatstawwe.
(ii) BTWs maak vergelykings tussen diere wat in verskillende seisoene en jare gebore is moontlik.
(iii) BTWs maak voorsiening vir die feit dat sekere vaars met beter koeie gepaar word.
(iv) BTWs hou rekening met genetiese verandering in die kudde oor tyd.
(v) BTWs inkorporeer ook genetiese inligting van alle verwantes en ander gekorreleerde eienskappe.
(vi) BTWs hou rekening met die hoeveelheid prestasierekords wat beskikbaar is vir elke dier.

Seleksie op grond van BTWs bied daarom baie vinniger vordering as indekse.

-------------------- o0o --------------------

Hoeveel inligting in ‘n BTW kom van ‘n dier se stamboom en hoeveel van sy eie prestasie?

Die inligting wat gebruik word om ‘n BTW te bereken, kan van verskeie bronne kom: die dier se eie prestasie, rekords van voorgeslagte, paternale en maternale half-broers en –susters, en nageslagrekords.  Aan elke bron word ‘n toepaslike gewig toegeken volgens die nabyheid van die verwantskap (elkeen deur die vaar en moeder), tussen die verwantes en die dier self.  Sodra ‘n dier baie nageslag het, word minder klem gelê op stamboominligting en die dier se eie prestasie.  Die prestasie van sy nageslag word nou die hoofbepalers van sy BTW.  Met hoogs oorerflike eienskappe is die dier se eie rekords belangriker, terwyl met laag oorerflike eienskappe (bv. vrugbaarheid) rekords t.o.v. verwantes en gekorreleerde eienskappe belangriker word.

-------------------- o0o --------------------

Maak BREEDPLAN voorsiening vir seisoenale variasie en verskille in voedingsvlakke van kuddes betrokke?

Elke dier word aanvanklik net vergelyk met diere van dieselfde geslag wat binne ‘n beperkte kalwingsverspreiding gebore is en onder dieselfde omstandighede grootgemaak is.  Dit word dan met ander groepe vergelyk.  ‘n Jaaroud kalf wat 25 kg swaarder as sy groepgemiddelde van 350 kg  in ‘n swak seisoen is, sal dieselfde krediet kry as ‘n ander kalf wat 25 kg swaarder is as ‘n groepgemiddeld van 400 kg in ‘n goeie seisoen. 

Die verskille in voedingsvlakke word geakkommodeer deur die gebruik van koppel- of merkervaars wat nageslag in ten minste twee kuddes het.  Die koppelvaars in elke kudde word as verwysingspunt vir daardie kudde gebruik en al die diere word in verhouding met hierdie koppelvaars gerangskik.  Die feit dat die nageslag van ‘n koppelvaar in een kudde gemiddeld 240 kg weeg  met speen en slegs 180 kg in ‘n ander kudde, benadeel nie die kudde met laer voedingsvlakke nie.  Kuddes van minder gunstige omgewings het inderdaad ‘n beter geleentheid om hul werklike genetiese potensiaal deur BREEDPLAN te demonstreer.

-------------------- o0o --------------------

Wat is die akkuraatheid van ‘n BTW?

Die Akkuraatheid of betroubaarheid van ‘n BTW vir ‘n bepaalde dier word bepaal deur die hoeveelheid inligting wat beskikbaar is ten opsigte van daardie dier, sy verwantes en die diere waarmee hy vergelyk word.  Hoe meer inligting bekend is, en veral hoe groter die getal nageslag wat ontleed word, hoe hoër die oorerflikheid van die eienskap, en hoe meer diere in die vergelyking is, hoe betroubaarder is die BTWs.

BTWs met lae akkuraatheid kan baie verander (op-of afwaarts) met die toevoeging van meer inligting, terwyl dit onwaarskynlik is dat BTWs met hoë akkuraatheid veel sal verander.  Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat BTWs ‘n gelyke kans het om op- of afwaarts te verander soos wat meer inligting bykom.  Akkuraatheid is derhalwe ‘n risiko-maatstaf.  As u bv. slegs een bul selekteer om met verse te paar, sal akkuraatheid belangriker belangriker wees as wanneer u, sê, drie jong bulle vir ‘n groep koeie koop.

Terwyl prestasierekords van verwantes soos half-sibbes (broers en susters) tog die akkuraatheid verhoog, word wesenlike toename in akkuraatheid slegs bewerkstellig wanneer nageslagrekords bygevoeg word.

As die enigste beskikbare inligting die bul se 400-dae gewig is (‘n eienskap met ‘n oorerflikheid van 0.3), sal die akkuraatheid van sy BTW vir daardie eienskap 55% wees.  As 10 nageslagrekords by die ontleding gevoeg word, sal die akkuraatheid van sy BTW toeneem  tot 74%, vergeleke met slegs 64% indien rekords van 24 half-sibbes bygevoeg word.  Sien tabel vir die effek van bykomende prestasie-rekords op die akkuraatheid van ‘n BTW vir ‘n eienskap met oorerflikheid van 0.3.

Prestasie gemeet op: Akkuraatheid (%)
   
Individu 55
Individu + 10 PHS* + 2 MHS** 61
   
10 nageslag 67
32 nageslag 85
   
Individu + 10 nageslag 74
   
Individu + 45 nageslag 90

*        PHS is paternale half-sibbes of ander kalwers van dieselfde vaar
**       MHS is matenale half-sibbes of ander kalwers van dieselfde moeder

(Die GROEP-BREEDPLAN of nasionale evaluasie akkuraathede sal hoër wees as in die tabel omdat die ontleding ook inligting van ander gekorreleerde eienskappe gebruik).

-------------------- o0o --------------------

Hoeveel moet ek my steur aan die akkuraatheid van ‘n eienskap?

‘n Algemene reël is dat diere op grond van BTWs vergelyk moet word, ongeag akkuraatheid, maar waar twee diere dieselfde BTWs het, kan die een met hoër akkuraatheid ‘n beter keuse wees, met dien verstande dat ander faktore dieselfde is.

Wanneer u ’n bul moet kies wat na verwagting moet presteer, bv. ‘n lae geboortegewigbul om met verse te paar, kies dan een met beide die verlangde BTWs en hoë akkuraathheid vir die eienskappe van belang, aangesien daar minder kanse is dat BTWs sal verander met die beskikbaarheid van meer inligting

As u dit egter kan bekostig om ‘n paar bulle te probeer, oorweeg dit dan om bulle met die beste BTWs vir die eienskappe van belang te kies sonder om u veel aan akkuraatheid te steur.  Selfs al sou die individuele BTWs van hierdie bulle verander, sal hul gemiddelde BTW nie verander nie. U kan verwag dat die BTWs van 1/3de van hierdie bulle inderdaad hoër sal wees as aanvanklik beraam.  Sodoende het u ‘n groter kans dat u kudde nader aan die teiken eienskap sal beweeg. 1/3de van die BTWs van die res van die bulle sal staties bly en dié van die ander 1/3de sal afneem.

in die geval van die aankoop van jong bulle van ongeveer 18-24 maande sal hul akkuraathede vir ‘n spesifieke eienskap normaalweg baie dieselfde wees. In hierdie omstandighede kan selfs die enkel bulkoper op die BTW eerder as op akkuraatheid konsentreer.

 -------------------- o0o --------------------

BTWs vir ‘n dier het aanmerklik verander sedert die laaste ontleding

Hou asseblief in gedagte dat die akkuraatheid van BTWs verbeter soos meer inligting beskikbaar word in die berekening van die BTW. 

-------------------- o0o --------------------

Hoë of lae volwasse koeigewig-BTWs?

Volwasse Koeigewig BTWs word bereken van gewigte wat van die koei geneem word wanneer haar kalf se speengewig gemeet word.  Sodoende bring die ontleding die gewig van die koei sowel as dié van die kalf wat sy geproduseer het in berekening.  Die Volwasse Gewig BTW is gestandaardiseer om verskille tussen koeie op 5-jaar ouderdom aan te dui.

Seleksie vir groeitempo sal waarskynlik die volwasse gewig laat toeneem en daarom ook onderhouds-/voedingsbehoeftes.  Volwasse gewig-BTWs  behoort telers in staat te stel om daardie diere met hoë groeitempo en middelmatige volwasse gewig te identifiseer.  Die Volwasse Koeigewig BTW kan die volgende aandui:

Dit kan verwag word dat ‘n koei met ‘n hoër Vgew-BTW meer voeding mag nodig hê vir onderhoud as ‘n koei met ‘n laer Vgew-BTW.  Sy sal ook waarskynlik ‘n swaarder kalf speen.  ‘n Breë riglyn is dat Vgew-BTW laer moet wees as dieselfde dier se 600-dae Gew-BTW.  ‘n Koei wat ‘n laer Vgew-BTW as haar 600d-BTW het, kan bv. haar groei na haar nageslag oordra, terwyl syself ‘n laer volwasse gewig handhaaf.

-------------------- o0o --------------------

Twee van my bulle wat op dieselfde dag in dieselfde groep geweeg is, het dieselfde 400-dae gewigte, maar verskillende BTWs … ?

Twee bulle (A en B) het beide ‘n 400-dae  aangepaste gewig van 380 kg vergeleke met ‘n gemiddelde gewig van 350 kg vir die groep.  As daar geen inligting oor die genetiese voortreflikheid van die ouers of ander verwantes was nie, sou beide diere ‘n BTW van +9 kg vir 400-dae gewig gehad het.

[ (380kg – 350kg)* 0.30 oorerflikheid = +9kg]

As daar egter wel inligting oor die ouers was t.o.v. hul eie prestasie of die van ander verwantes, sou die ouers se BTWs dié van hierdie twee bulle ook beïnlvoed het.  Die ekstra nageslaginligting (dié t.o.v. die bulle) sal ook die ouers se BTWs beïnvloed.  Hoe hoër die akkuraatheid van die ouers se BTW, hoe kleiner sou hierdie effek wees.  In die volgende voorbeeld word hoë akkuraatheid ouer-BTWs veronderstel.  Sê  bv. dat die ouers van Bul A  BTWs van +12 en +4 vir 400-dae gewig het en die ouers van Bul B BTWs van +4 en +2.  Die ouers van Bul A is m.a.w. geneties meerderwaardig tot die ouers van Bul B. Met hierdie beskikbare inligting oor ouers sal die BTWs vir 400-dae gewig van die twee diere aangepas word tot iets soos:

  Voorlopige Kalf-BTW Ouers Gemiddelde BTW Kalf-BTW aangepas vir ouers
         
Bul A +9 +8 12 +11
      4  
Bul B +9 +3 4 +7
      2  

Alhoewel die twee diere dieselfde individuele prestasie gehad het, dui die meerderwaardige genetiese agtergrond van Bul A aan dat sy nageslag effens meerderwaardig tot die nageslag van Bul B sal wees.

Omdat beide ouers bekend is, word die BTW vir die kalf saamgestel uit die middelouer-BTW en ‘n gedeelte van die verskil tussen die kalf se meting en die groepgemiddelde.  Hierdie gedeelte is net die helfte soveel werd as die ouers onbekend is.

-------------------- o0o --------------------

Ek weeg al my diere op 400 en 600 dae.  Waarom verander my 400-dae BTWs sodra die 600-dae BTWs bekendgestel is?

Dit is die effek van gekorrelleerde eienskappe.  Twee kalwers het dieselfde BTW vir 400-dae gewig nadat jaaroud gewigte ontleed is.  Die BTWs vir 600-dae gewig is beraam van die 400-dae gewigte en die prestasie van die ouers.

 

400-Dae Gewig BTW

600-Dae Gewig BTW

Kalf A +9 (+15)
Kalf B +9 (+15)

Wanneer die kalwers op 600-dae geweeg word, het Kalf A ‘n aangepaste gewig van 520kg en Kalf B ‘n aangepaste gewig van 490 kg, vergeleke met ‘n gemiddeld vir die groep van 460kg.  Met die toevoeging van die 600-dae gewiginligting herbereken BREEDPLAN die BTWs vir 600-dae gewig en ook die BTWs vir 400-dae gewig, a.g.v. die genetiese korrelasie tussen 400- en 600-dae gewigte.  Die meerderwaardige prestasie van Kalf A op 600-dae ouderdom gee aan hom ‘n hoë 600 dae BTW en veroorsaak ook ‘n effense verhoging in sy BTW vir 400-dae gewig.  Die teenoorgestelde effek word waargeneem vir Kalf B a.g.v. sy swakker prestasie op 600 dae.

Nadat 600-dae gewigte in die ontleding ingesluit is, sal die BTWs aangepas word tot iets soos:

  400-Dae Gewig BTW 600-Dae Gewig KG 600-Dae Gewig BTW
Kalf A +11 520 +20
Kalf B +9 190 +10

L W : Wanneer werklike metings beskikbaar is, het die gekorreleerde eienskappe ‘n relatief klein effek op BTWs.

 -------------------- o0o --------------------

Vertel my meer van die Melk-BTWs

Die BREEDPLAN  200-dae Melk-BTW is die beste beraming wat tans beskikbaar is van ‘n dier se melkproduksievermoë.  In die geval van vaars verwys dit natuurlik na die melkvermoë van hul dogters en  dit kan daarom ‘n tydjie duur voordat ‘n vaar dogters het met kalwers wat prestasie-aangeteken is.  As ‘n bul as ‘n terminale bul gebruik word, met geen dogters wat as plaasvervangers gehou word nie, kan sy Melk-BTWs as ‘n reël verontagsaam word.

Totdat ‘n bul dogters in produksie het, word sy BTW vir 200-dae melk bepaal vanaf sy verwantes se BTWs.  Die akkuraatheid van ‘n melk-BTW wat streng op stamboominligting gebaseer is, is laag en die moontlike verandering in BTW van een evaluasie na die volgende, soos wat dogters in produksie kom, kan aansienlik wees. Die 200-dae BTW is ook die BTW wat die meeste deur gebrekkige aantekening beïnvloed word, bv. deur bestuursgroepe te ignoreer.

Dit kan gevra word waarom die Simmentaler wat bekend is vir melk op Melk-BTWs geselekteer word.  Die antwoord is dat, soos die geval met enige ander ras, sommige Simmentaler bulle  die vermoë het om dogters te teel wat meer melk produseer as ander Simmentalers.

Die optimumvlak van melkproduksie-potensiaal onder vleisbeeskoeie is afhanklik van die produksiesisteem en omgewing waarin die koeie aangehou word. Seleksie vir hoër melkproduksie kan geregverdig word wanneer koeie onder goeie voedingstoestande aangehou word en die kalwers op speen verkoop word.  Sekere omgewings mag egter nie bevorderlik vir hoë melkproduserende koeie wees nie.

-------------------- o0o --------------------

Hoe groot moet my kudde wees om deel te neem?

Daar is geen werklike minimum grootte kudde nie, maar om effektiewe resultate van u eie rekords te kry, sal u ongeveer 10 koeie benodig wat in ‘n 12-weke periode kalf.  Klein kuddes kan die akkuraatheid en effektiwiteit van hul resultate verhoog deur hul kalwingsperiode so kort as moontlik te hou en die aantal bestuursgroepe tot ‘n minimum te beperk.  Moet bv. nie bulkalwers kastreer voor die eerste weging nie aangeteken is  nie, en moenie die trop in kleiner sub-groepe verdeel indien dit nie absoluut noodsaaklik is nie.  Waar slegs een bul in enige jaar in ‘n kudde gebruik is, kan BTWs nie vir daardie bul bereken word nie, maar dit sal wel vir die moeder en kalwers bereken word.  Klein kuddes kan egter waardevolle inligting vir hul ras t.o.v. KI-bulle tot die GROEP-BREEDPLAN ontleding bydra.

-------------------- o0o --------------------

'n Paar riglyne wat telers met klein kuddes kan volg om effektiewe resultate te verkry.

Die basiese meganisme waarvolgens BREEDPLAN werk is om die prestasie van diere met ander diere in dieselfde groep te vergelyk.  Waar daar slegs een dier in ‘n groep is, is daar niks waarmee hy vergelyk kan word nie en daarom kan sy prestasie nie gebruik word nie.  Kalwers word slegs in dieselfde groep ontleed as hulle:

‘n Ontledingsgroep moet dus ‘n minimum van twee diere hê wat aan hierdie kriteria voldoen om in die BREEDPLAN-ontleding gebruik te word.  Daar is ‘n paar strategieë wat telers kan gebruik om te verseker dat die prestasie van kalwers by effektiewe ontledingsgroepe ingesluit word.

1. Beperkte kalwingsperiodes:  aangesien kalwers slegs  by dieselfde ontledingsgroep ingesluit word
  as hulle binne 45 of 60 dae van mekaar gebore is, is dit noodsaaklik dat klein kuddes die korste prakties moontlike kalwingsperiode het.
   
2. Hou alle kalwers onder dieselfde bestuurstoestande :   waar moontlik moet alle kalwers onder
  dieselde omstandighede gehou word en op dieselfde dag geweeg word.  As kalwers in verskillende groepe verdeel moet word, is dit nuttig om die hele groep voor die verdeling  te weeg.  Dit is bv. moontlik om 200-dae gewigte enige tyd tussen 80- en 300-dae ouderdom te neem en daarom kan u alle manlike kalwers as ‘n groep weeg voordat ‘n gedeelte van hulle gekastreer word.
   
3. Insluiting van kommersiële diere :  As u ‘n kommersiële kudde het, oorweeg dit om hierdie diere
  saam met u “stoet”-diere aan te teken.  Dit laat ruimte vir ‘n groter getal diere om by dieselfde ontledingsgroep ingesluit te word. 
   
4. Gebruik meer as een bul :  ‘n Ander belangrike faktor om te oorweeg is dat ‘n kudde meer as een
  bul in enige paringsprogram moet gebruik.  BREEDPLAN vereis dat ten minste twee bulle in ‘n ontledingsgroep verteenwoordig is as die prestasie van die nageslag gaan bydra tot die berekening van BTWs vir hul bul.  Waar KI-programme gebruik word, moet dit so gereguleer word dat KI-kalwers dieselfde tyd gebore sal word as kalwers wat deur natuurlike parings verwek is.
   
5. Genetiese koppelings :  Soos met alle BREEDPLAN-aantekeningskuddes, is dit nodig dat u bulle
  gebruik wat in ander kuddes prestasie getoets is.  Dit word genetiese koppelings genoem en is nodig om voorsiening te maak vir vergelykingspunte tussen kuddes om BTWs te bereken.

In baie gevalle is die voordele van aantekening van ‘n klein kudde by  BREEDPLAN  dat dit u help om te bepaal hoe die diere in die klein kudde met die res van die ras vergelyk.

 

Die Simmentaler Beestelersgenootskap van Suidelike Afrika
2003 - 2007

W3Counter Web Stats